Lukas 2: 8-20
In ’n ontwrigte, stukkende wêreld en lewensomstandighede waarin daar maar min is wat ons opgewonde maak, bedink ons in Adventtyd op pad na Kersfees die ewige aankondiging van die engel aan skaapwagters: Ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Christus, die Verlosser, is gebore.
Vir die skuldbelaste sondaar, ek as mens, wat net soos Paulus die goeie wil doen, maar dan staan die kwade ons by, bring hierdie goeie tyding vergifnis. Daar waar ek aan sonde verslaaf is, hoe dit ook al in humeur of rusie of haat of hoe ook al in my lewe gestalte neem, bring hierdie tyding die belofte van bevryding, want in Hom wat gekom het, is ek meer as oorwinnaar en tot alles in staat om deur sy genade die sonde te oorwin. Ja, voorwaar, hierdie tyding bring vir die vermoeide mens rus, vir die soekende sekerheid, vir die bekommerde vertroosting. In ’n wêreld waar korrupsie, algehele verval, die gebrek aan etiek en integriteit, toekomsonsekerheid en ekonomiese oorlewing miljoene se harte oorval met onrus en twyfel, is die aankondiging van die engel van hierdie goeie tyding, ’n tyding wat ons tot groot blydskap moet wek.
Hierdie boodskap of goeie tyding is vir almal bedoel, van die eenvoudigste kindjie tot die grootste geleerde. Niemand is daarvan uitgesluit nie, en tog is dit ook ’n ernstige persoonlike tyding aan ons elkeen. Vir jou sou Jesus kom. Vir jou is Christus gebore. Saam met Paulus kan ons uitroep: Jesus Christus het in ons wêreld gekom om sondaars te red, waarvan ek die grootste is! Met Tomas sou ons dit kon uitroep in hierdie gebroke en stukkende tyd: My Here en my God! Christus bring lewe waar sonde en ’n stukkende wêreld dood bring. Hy gee sin en krag en hoop en ’n toekoms.
Mag ons soos die herders in beweging kom, vurige en ywerige dienaars en verkondigers van God se woord. Mag ons gesindhede in ons huise, verhoudings en lewens bepaal word deur die goeie tyding, nie deur omstandighede nie, en mag ons volhardend in geloof leef.
Ds Hans Britz, Standerton
