Jesaja 40: 1-11

Advent is voorbereidingstyd. Tydens Advent berei ons onsself voor op Kersfees.

Israel is God se verbondsvolk. Dit is hulle vandat God sy verbond met Abraham opgerig het, wat weer in die woestyn op die berg Sinai deur God self bevestig is. Deur die loop van die geskiedenis het Israel nie hul besondere verhouding met God geag nie. Hulle het telkemale hul eie rigting ingeslaan, van die Here vergeet en agter vreemde gode aangeloop. Die profeteboeke, 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings is vol van verhale van Israel se ontrou aan die Here en hul geneigdheid om maklik deur afgodery verlei te word.

Israel se onvermoë om hul identiteit as die volk van God uit te leef, lei uiteindelik daartoe dat hulle deur die Here gestraf word. Hierdie straf is die verskrikking van die ballingskap. Hulle het met hul eie oë gesien hoe hul stad en hul kosbare tempel tot op die grond toe afgebreek word. Families is uitmekaar geskeur, bloed het gevloei, en die room van die volk is in ballingskap weggevoer.

Johannes die Doper stel ’n ander pad na God toe voor. ’n Pad wat nie by ons begin nie, maar by God. God is op die punt om self in te gryp. God gaan die lank verwagte Messias stuur om die volk van hul sondes te kom verlos. Vir sy koms moet die volk gereed wees, daarom moet hulle hulself bekeer! Dit beteken dat die volk hul sonde moet laat staan en moet terugkeer na hul bevoorregte verhouding met God, en dit behels dat hulle volgens hul roeping moet lewe. ’n Heilige lewe in ooreenstemming met die wil van God is baie belangriker as offers, rituele en tradisies wat in die tempel uitgevoer moes word.

Dit is wat die stem wat in die woestyn roep vir ons wil sê: God is op pad! God is op pad na ons toe. Hy kom ons red en herstel wat die sonde hier geskend het! Mag dit die boodskap wees wat elkeen van ons hierdie Advent verkondig.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link