Matteus 1: 18-25 

Josef is ’n doodgewone ou, maar ordentlik. Hy ken sy wortels, en is trots daarop. Hy is ’n Judeër, en die ou koning Dawid is ’n veraf oupagrootjie. Sélf bly Josef nou wel nie meer in Juda nie; ’n man trek mos maar agter omstandighede aan. Maar as die keiser vra wie jy is en waar jy vandaan kom, gaan jy Betlehem toe; dís jou wêreld, dis jóú mense. En, les bes, Josef steur hom aan God.

Daar is destyds vroeg getrou, dog toe nou nie vroeg genoeg nie. Maria is swanger, en Josef se kind is dit nie. Wat doen so ’n ordentlike jongman nou? Wat sê die wet? Deuteronomium 22 sê soms moet jy die meisie en die ongebore kind se pa met klippe laat doodgooi; as dit verkragting was, net die pa. Met die dóód moet jy hierdie soort kwaad uitroei. Maria se swangerskap is ’n “kwaad”. Sy moet dood. Dis vóór aborsie: Jy maak sommer die vrou én die baba dood. 

Maria se verweer is ’n groter skande as selfs omgang met instemming: Daar was geen mán by haar nie, dit was God! God het by my ingekom. Sies! Alkante toe is dit ’n gemors. Josef besluit hy gaan die vrou los. 

God meng in die lewe van doodgewone mense in. God steur Hom min aan die fynere etiese reëls van die samelewing en goeie sedes van ordentlike mense, of wette wat geen genade toelaat nie. Gewone mense kry die taai toffie van God se inmenging nie gehanteer nie. Wat op aarde laat ons dink óns kry dit reg, beter as Josef en Maria destyds?  Ons wat op wetenskap reken, ons wat skepties is, ons wat met geloof stoei en met God in openbare bekgevegte gewikkel raak? Wat laat ons dink dat ons ’n maagdelike geboorte vir krismiskoek sou opeet? Dalk met báie brandewyn, ja, maar nugter? Aikona! 

God maak skandes. Genade is skandalig. Dit maak skaam, hoe lief God doodgewone mense het.

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

af
af
Copy link