Markus 5: 1-20

Jesus en sy dissipels het kruis en dwars oor die See van Galilea gevaar met hul boot. Nadat Hy die storm stilgemaak het, het hulle weer by die oorkant van die meer gekom, by die suidoostelike oewer by die land van die Geraseners. Hul dorpie was ’n entjie, omtrent 10 kilometer, van die meer af. Wanneer die dissipels aan wal gaan, word hulle deur ’n ontstellende prentjie begroet: ’n Man wat tussen die grafte woon, is ernstig versteur en wanaangepas. Hy word deur ’n onrein gees beheer sodat hy sy klere uittrek, en heeldag tussen die grafte rondloop en skreeu en homself met klippe seermaak. Dit hou heeldag en heelnag aan. Bowendien is hy so sterk dat niemand hom kan keer of beheer nie, en selfs sterk boeie en kettings kan hom nie vashou nie.

Liewe broer en suster, dit laat ’n mens dink aan iemand wat aan dwelms verslaaf is, en wat so buite beheer is dat sy of haar eie familie, en die mense die naaste aan so iemand, vir hulle bang is, en deur hulle verniel word. Hoewel ons dalk vandag anders dink oor siekte en bose geeste en geestesongesteldheid, is daar vandag nog mense wie se gedrag buite beheer is, wat ons eintlik bang maak en bedreig, oor wie ons geen beheer het nie.

Maar Jesus het beheer oor ’n hele legioen van boosheid wat van hierdie man besit geneem het. Wanneer Jesus die bose geeste toelaat om in die Geraseners se onrein varke in te vaar, en hulle die arme man verlaat, is die man so mak soos ’n lam: Die mense van Gerasa sien hom by Jesus sit met sy klere aan, by sy volle verstand, terwyl hy Jesus smeek om by Hom te mag bly!

Goddank het die Here Jesus nie net beheer oor ’n storm en die chaosmag van die natuur nie, Hy het ook beheer oor mense wat vir ons chaoties en onbeheerbaar lyk!

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link