Matteus 4: 23-25

Ons is nog in die Epifanietyd. Vandag vind ons Jesus waar Hy self begin optree. Ons verneem Hy het in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Jesus se verskyning en teenwoordigheid moes sigbaar word. Algaande het Hy bekend geword, want groot menigtes … het Hom gevolg.

Matteus som Jesus se optrede op as leer, verkondig en genees. Die inhoud van Jesus se leringe was telkens die uitleg van dele uit die Ou Testament. In Nasaret se sinagoge het Jesus uit Jesaja 61: 1-2 gelees. Hy het hulle geleer dat daardie belofte met sy koms vervul is (vgl Luk 4: 16-21). In sy bergrede het Jesus aangehaal uit die tien gebooie, Eksodus 20: 13. Hier het Jesus aan die sesde gebod ’n nuwe, breër inhoud gegee (vgl Matt 5: 21-22). Jesus leer dat die wet en die Skrif eerder aandui hoe ons tekortskiet in ons verhouding met God.

Behalwe dat Jesus die hoorders oor dit wat verby is geleer het, het Hy ook die blye boodskap dat die koninkryk van God naby is, verkondig.

Jesus is hier meer as Leraar en Verkondiger. Hy is ook Geneser. Jesus genees die siekes van allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was… Die klem in hierdie genesings lê nie op ’n wonderwerker wat wonderbaarlik sorg vir beterskap en herstel nie. Die klem val op die krag en die almag van God wat hier in Jesus teenwoordig en sigbaar is. As Jesus hier mense genees van bose geeste, is dit reeds ’n vroeë aanduiding van sy latere oorwinning oor die magte van die duisternis en die dood.

Ons verneem dat groot menigtes van heinde en verre gekom en Jesus gevolg het. Jesus se verskyning en teenwoordigheid sluit almal in oor volk- en landgrense heen. Daarom is dit ook vir ons vandag belangrik.

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link