Jesaja 11: 1-10

Mosaïek is ’n gewilde kunsvorm in ons tyd. Met teëltjies, glas of enige materiaal vorm mense ’n beeld wat simboliese betekenis het. Mosaïek is een van die oudste kunsvorms. Dit bestaan reeds vir minstens 4 000 jaar. Dis ’n kunsvorm wat ook in baie kerke nagevolg word. Ons vind in menige kerkgebou pragtige mosaïekmure, -vloere en -vensters.

Uit die kunsvorm van mosaïek kan ons lewenslesse leer oor die wyse waarop God in ons lewens werksaam is. Daar is veral drie dinge met die skep van mosaïek wat belangrik is:

Elke stukkie van die mosaïek is belangrik. Dit neem heelwat beplanning en sorgvuldige plasing van elke stukkie op sy plek, sodat die geheel uiteindelik sin maak.

Net so belangrik: Jy kan nie die geheel sien as jy net na een stukkie kyk nie. Jy moet wag dat alles eers in plek is, voordat jy dit beoordeel of verstaan.

Om die eindproduk regtig te waardeer, moet jy van naby kyk, en van ver, sodat jy waardering kan kry vir die rol wat elke stukkie in die geheelbeeld beteken.

Ons moet die Bybel lees soos ’n mosaïek – elke stukkie, totdat ons die geheel kan waardeer. Ons lewens is ook soos  ’n mosaïek, waarvan elke deel betekenis het en deel vorm van die groter geheel van hoe God ons lewens vorm.

Vanuit Nuwe Testamentiese perspektief is Jesaja 11: 1-10 soos ’n mosaïekbeeld van Jesus Christus se betekenis in ons lewe. Dit is die beeld van ’n takkie wat uit die stomp van Isai sal uitspruit as heenwysing na die Verlosser wat vir ons gebore is. Deur hierdie Verlosser is God besig om ons daagliks in ons lewens te vorm. Elke deeltjie van ons lewe is nodig, en so skep God vir ons die volle beeld wat Jesus Christus vir ons kom doen.

Soms moet ons intens besig wees met elke deel, maar ander kere moet ons weer terugstaan en bewus word van die geheelbeeld. Kom ons ontdek opnuut hoe ons God se mosaïek van die lewe is.

VONKK 166: 1-4

Ds Martin Meyer, Secunda

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link