Markus 4: 26-34

Op skool word ons geleer hoe die proses van ontkieming werk. Deur ’n boontjiesaad te laat ontkiem onder watte en met noukeurige versorging, leer ons dat daar lewe in ’n saad opgesluit is. Iets van hierdie wonder van lewe en saad wat self groei, is die beeld wat Jesus gebruik in die eerste gelykenis in hierdie gedeelte. Hy vergelyk dit met die koninkryk van God – ’n tema wat gereeld in die gelykenisse van Jesus voorkom.

Markus 4 begin met die bekende gelykenis van die saaier en die groot opbrengste wat die saad gelewer het toe dit in goeie, vrugbare grond beland het. Die indruk word geskep dat hierdie gelykenis in vers 26 voortgesit word. Die koninkryk van God wat in die goeie en eerlike hart rusplek vind, is soos daardie saad van die saaier se opbrengste: Hier is die punt juis dat dit deur geduld en geloof is dat die saad daagliks groei. Al verstaan ons nie hoe dit gebeur nie. God is tog die Een wat laat groei wat ons gesaai het!

Hierdie gedagte van die koninkryk van God wat ’n mens se lewe so deursuur, word verder beklemtoon in die gelykenis van die mosterdsaad. Die mosterdplant is die kleinste van alle boomsoorte, maar die grootste van alle groenteplante. Dit gaan oor die perspektief waarmee na die plant gekyk word. En daarna, sê Jesus, maak die voëls nes in hierdie plant, want dit is geurig en smaaklik.

So werk God se koninkryk. Wanneer ons aktief besig is om met liefde, deernis en omgee na mekaar om te sien, is ons besig om die saad van die koninkryk wat reeds in ons geloofsharte leef, ook te saai. Dan vertrou ons dat God die saad wat ons saai in ander se lewens (en ander in ons lewens) sal laat groei. En wanneer dit groei, sal ander ook die soet geur van God se genade by ons kom opsoek, soos die voëls in die gelykenis.

Laat ons daarom God vertrou in hierdie groeiproses en ons perspektief verander sodat die koninkryk van God sigbaar sal word rondom ons.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link