1 Petrus 4: 7-11

Die gelowiges wat verspreid gewoon het in die noordelike streke van Klein-Asië, word bemoedig met die oproep om nie maar net te oorleef nie, maar om met oorgawe te leef. Hulle word herinner aan die belofte van Jesus se wederkoms, sodat dit hulle aanspoor tot ’n lewe van gehoorsaamheid en diens aan God. Die tyd wat hulle het, is tyd wat gebruik moet word om positief te leef en met oorgawe elke geleentheid te gebruik om die Here te dien.

Ons teks roep die gemeente op om in alle omstandighede selfbeheers en nugter te wees, want alleen dan sal die gelowiges in staat wees om helder te dink. Die geleenthede wat ons het, in die omstandighede waarin ons ons bevind, moet deeglik en biddend oorweeg word. Ons moet met die gesindheid leef dat alles wat ons doen vanuit ’n hartlike liefde vir mekaar gedryf moet word.

Hierdie roeping tot diens word wyer verstaan as net die mense om ons wat ons bekendes is. Dit is in die gedeelte duidelik dat almal wat op ons pad kom, hierby ingesluit is, daarom kry ons die oproep tot gasvryheid. Ons harte, hande en deure moet altyd oop wees vir alle mense. Ons kan nie besluit wie geregtig is op ons diens, liefde en gasvryheid nie.

Hierdie opdragte wat ons in die gedeelte kry, vra dat elkeen van ons ernstig selfondersoek sal doen en sal kyk na die ingesteldheid waarmee ons lewe. In ons situasie in Suid-Afrika vandag is ons baie ingestel op oorlewing en eiebelang. Ons gemeentes is ook in ’n oorlewingstryd gewikkel en kan dikwels dan ook nie verder sien as ons eie nood en krisisse nie.

Ons sal tyd moet maak om met selfbeheersing en nugterheid te dink oor ons roeping as kerk, maar ook oor waar ek as gelowige staan in die groot taak. Ons sal elke dag ernstig moet bid om ons omstandighede te verstaan en ook te verstaan wat ons roeping is. Dan alleen sal ons die Here kan dien met die gawes wat aan ons gegee is.

Ds Adriaan Roets, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link