Matteus 6: 25-34

Daar is deesdae talle mense wat van God se afwesigheid praat. Die Een wat geskep en toe verdwyn het. Die immer groeiende getal afhanklikes wat nie genoeg middele het om van te leef nie, skree dit in wese op straathoeke, in winkelsentrums en in plakkerskampe landwyd uit. Die slagoffers van geweld en ander hartseer beeld dit oral in die media uit. God het egter nié die heelal geskep en toe teruggestaan en ons aan ons eie lot oorgelaat nie. Vry vertaal, lees die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 27 dat Hy steeds alles en almal onderhou en dat dinge soos lower en gras, droogte en reën, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede, nie toevallig deel is van ons leefwêreld nie, maar dat dit alles ons deur sy Vaderhand toekom.

Dit is natuurlik nie moeilik om die liefdevolle Skeppervader se hand in die skoonheid van die natuur te sien nie. Dit is net so maklik om in jou eie voorspoed dankbaar te wees vir die oorvloed wat jy besit. Dit is egter nie so maklik om God altyd in ons swaarkrytye te vind nie. Tog is Hy oral deel van ons lewens en werklikheid. Die feit dat God met ons in ons swaarkry is, is suiwer genade. Dit bly ’n groot geskenk.

Ons kommer en onsekerheid oor waarvandaan ons hulp en middele in die volgende dae sal kom, is aldus Matteus kleingeloof. God voorsien en God gee. God se solidariteit met slagoffers van swaarkry is sowel oordeel as genade. Oordeel oor alle onsensitiwiteit en onmenslikheid wat swaarkry veroorsaak, maar ook genade vir almal wat slagoffers daarvan is. Ons kan Hom erken as die Skepper, die onderhouer en die gewer van alle goeie dinge.

Matteus roep ons op om ons fokus te skuif. Ons denke moenie oorheers word deur die wêreld met al haar gebreke nie, eerder deur die koninkryk van God. Die res is ’n natuurlike vloei van dinge, met God wat midde-in ons lewens voorsien en lei.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link