2 Konings 5: 1-19

Wanneer ’n mens ’n foto neem, is dit belangrik om te sorg dat die kamera op die regte plek of persoon fokus. Die fokuspunt van die foto is gewoonlik daardie aspek wat die foto maak of breek. Net so is dit ook in ons lewens – dit waarop jy fokus in die lewe, is van die uiterste belang.

In ons Skrifgedeelte lees ons van ’n man wie se lewe uit fokus geraak het – Naäman. Naäman was ’n militêre man wat goed oorlog kon maak. Maar op ’n dag verneem hy dat hy die dodelike velsiekte, melaatsheid, onder lede het. Hy kry die wonderlike raad van ’n slawedogtertjie om na ’n profeet in die buurland te gaan. Hy besluit om ’n klomp geld saam te neem om sy gesondheid te kan koop. Sy fokus gaan hier oor dit wat hy kan vermag – om homself te help. Toe hy eindelik aankom by dié beroemde profeet, stuur Elia sy slaaf om vir Naäman te sê wat hy kan doen om genees te word. Maar Naäman is bitterlik ontsteld daaroor dat ’n slaaf vir hom kom sê wat om te doen en nie die profeet self nie. Naäman fokus hier op sy eie eer en status. Boonop is hy woedend oor hy hom in ’n vuil rivier moet gaan was en dat hy nie in sy eie land se skoon riviere kan gaan was nie. Sy status gaan heeltemal na sy kop toe.

Maar dan gryp die Here weer eens in en laat Naäman se eie slaaf hom oortuig om tog na die profeet te luister, en so die fokus weg van homself af te kry. So gryp die Here in sy lewe in en verander Naäman se fokus. Naäman besef dat hy afhanklik is van die Here en dat hy nie alles uit sy eie kan vermag nie. Wanneer Elia sy dankbaarheidsgeskenk van die hand wys, wys hy ook vir Naäman dat dit nie deur sy toedoen was dat hy genees is nie, maar dat dit van die Here af kom. Naäman se fokus verskuif al hoe meer na die Here toe – tot so ’n mate dat hy die Here aanbid selfs ten spyte van die mense om hom wat afgode aanbid.

Mag die Here my en jou fokus voortdurend instel sodat ons elke dag ons oog op Hom gerig kan hou.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap