Johannes 14: 15-31
Jesus begin hierdie gesprek met sy dissipels in hoofstuk 14 met die woorde: Julle moet nie onsteld wees nie (vers 1). Hy het sy volgelinge so goed geken en Hy weet wat die impak van sy weggaan op hulle gaan wees. Wanneer ons hul vrae lees, sien ons iets van hul onbegrip. Hulle verstaan reeds nie hoekom Hy moet weggaan nie, hoe sou hulle die “weg”daarheen kan ken? Vir drie jaar volg hulle Hom. Hulle sien waartoe Hy by magte was om te kan doen en hulle het aandagtig geluister na sy prediking. Nou praat Hy van weggaan. Natuurlik was hulle onsteld, bang en onseker! Jesus weet dit, en sy gesprek met hulle is vol troos en beloftes: Hy gaan om plek gereed te maak. Hy stuur vir hulle ’n ander Voorspraak wat vir ewig by hulle sal wees. Hy sal hulle nie as weeskinders agterlaat nie. Hy lewe en hulle sal lewe. Sy vrede sal by hulle wees! Hulle moes hierdie versekering in hul omstandighede hoor en daaraan vashou.
Ons lees van die intieme band wat daar tussen Jesus, sy Vader en die Gees is. Jesus sê vir Filippus: Wie My sien, sien die Vader (vers 9). Hy sê ook wie Hom liefhet, sal sy woorde ter harte neem, en die Vader sal Hom ook liefhê en “Ons” sal na hom toe kom en by hom woon, Hy sal hulle nie as weeskinders agterlaat nie, hulle sal God se teenwoordigheid op ’n ander, duidelike manier beleef. Die gedeelte beskryf hoe groot God se ontfermende liefde vir sy kinders is. Hy los hulle nooit alleen nie. Deur sy Gees is Hy in hulle en hulle in Hom.
Vandag kan ons as gelowiges ook aan hierdie beloftes vashou. Wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan en worstel met verskeie vrae en onsekerheid, staan hierdie belofte vas: Ons is nie alleen nie. Ons is nie soos weeskinders sonder ’n vader nie. Hy is in ons en ons in Hom. Sy ontfermende liefde sal ons altyd omsluit – in lewe en in sterwe. Hou daaraan vas.
Ds Manda le Roux, Weskus
