Psalm 94: 8-11

Die Psalmdigter roep sy volksgenote tot hul sinne met ’n paar retoriese vrae. Die antwoorde is oorbodig, want almal weet tog dat God kan hoor en sien. Hierdie vrae dien in die eerste plek as waarskuwing vir die kwaaddoener wat dink hy kan wegkom met sy duistere werk. Aan die ander kant dien hierdie vrae as geweldige troos vir die gelowige wat gereeld sy toevlug tot God neem. Ons mag weet dat God altyd daar is, dat Hy ons raaksien en dat Hy ook graag na ons gebede luister.

Die argument rondom die oë en ore kan ook deurgetrek word na ’n persoonlike verhouding. Twee persone se gesprek beskik altyd oor die potensiaal om iets tussen hulle te laat gebeur. Waar daar van hart tot hart gekommunikeer word, kom ’n nuwe insig na vore wat sonder die gesprek nie moontlik sou wees nie.

Presies dieselfde kan gebeur wanneer ons bid. As daar waarlik met God gepraat word, kom daar ’n nuwe insig tot stand met betrekking tot jouself en jou omstandighede. Die Skrif is daarvan vol. Dink maar aan die digter van Psalm 73, Job se worsteling met God, en ook Christus s’n in die tuin van Getsemane.

As God nie daar was nie, sou elke gebed ’n alleenspraak, ’n gepraat in die wind wees. Die Skrifgetuienis dui egter op die teendeel. God luister wel met ’n gunstige oor na ons ter wille van Christus. Niks hieraan is egter vanselfsprekend nie – elke gebed vra ’n stuk waagmoed in die geloof. Wie tot God nader, moet glo dat Hy is en dat Hy daar is vir dié wat na Hom vra.

Gebedsverhoring? Hoe kan ons daaroor wonder ná alles wat Christus vir ons kom doen het? Hy self waarborg dan die verhoring van ons gebede, omdat Hy tussen ons en God kom staan het. Bid gerus maar, jou gedagtes en woorde sal nooit op dowe ore val nie.

Gesang 575: 1-3

Ds Petri de Kock,  Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link