Lukas 18: 24-27

Ons vergeet soms hoe bevoorreg ons is, om te glo in die God wat in staat is om wonderwerke te doen. Hy is die God wat daarin spesialiseer om die onmoontlike moontlik te maak. Net God kan die “on-” in onmoontlik deurhaal. Daarom het ons God nodig om wonderwerke te beleef in ons lewe. Dit is inderdaad ’n keuse in ons lewe, het Albert Einstein gereken: Jy kan lewe asof niks ’n wonderwerk is nie, of jy kan lewe asof alles ’n wonderwerk is…

Wanneer ons mekaar dan aanmoedig om te waag om te droom, haak ons by hierdie keuse aan, want ek en jy weet van ons drome is so groot en so onmoontlik dat dit amper meer as ’n wonderwerk gaan vra. God verheug Hom vir seker wanneer ons dit waag om te droom. Die Here jubel oor nuwe gedagtes, want dit is hoe Hy deur sy Gees ons lewens verander en transformeer, leer Paulus ons in Romeine 12: 2. God verheug Hom daarin as die oue so ’n bietjie gestrek word.

God het vir ons ’n boek nagelaat om vir ons te wys hoe wonderwerke moontlik kan word: ’n 80-jarige veeherder sou dit nie waag om met die magtigste man op aarde, met die magtige farao, kragte te meet nie… maar moenie dit vir Moses vertel nie. ’n Tienerseun, nog ’n skaapwagtertjie, stap nie gewoonlik uit in ’n tweegeveg tot die dood teenoor ’n drie-meter-reus nie… maar moenie dit vir Dawid vertel nie. Wanneer ’n ryk man voor Jesus staan en hy weet dit is onmoontlik om gered te word, vertel Jesus vir hom: Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik. En vir seker, moenie dit vir God vertel nie. Hy het ’n ewigheid gebruik om die aarde te laat verrys uit die stof. Ek en jy het die voorreg om verby die grense van die aardse lewe te mag glo. Ons glo in ’n ewige hemelse heerlikheid, danksy die wonderwerk van die Here Jesus wat mens geword het onder ons en vir ons die prys aan die kruis kom betaal het.

Mag ek jou vandag opnuut uitnooi om jou drome vir God te gee – die God wat jou onmoontlike droom ’n moontlikheid kan maak.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link