Johannes 8: 12-20

Die naam van hierdie vierde Sondag van die Lydenstyd is Laetare – “verheug”. Halfpad deur die Lydensreis begin die lig deurbreek en die diep pers word pienk gekleur. Elke fase van ’n reis het ’n eie gevoel en uitdagings. Aan die begin: opwinding oor die komende avontuur, óf angs vir die onbekende wat voorlê. Halfpad: Die uitdagings en werklikhede word duidelik. Dit verg moed en energie om deur te druk.

Jesus se lewensreis is soos ons almal s’n vol hoogte- en laagtepunte. Die Lydenstyd is soos die lewe self – net wanneer jy nie meer weet watter kant toe nie, breek lig deur, teken van hoop. Jesus was in die tempel vir die Loofhuttefees – ’n fees van lig-uit-duisternis, van vryheid-uit-gevangenskap. Israel vier die tyd tussen uittog en intog toe hulle in hutte moes leef in die woestyn, heeltemal afhanklik van God se beskerming. Met die Loofhuttefees is die tempel feestelik verlig. Omring deur hierdie lig van die eeue, sê Jesus: Ek is die lig. As jy My volg, sal die donker jou nie gevange hou nie.

Donker maak oriëntasie moeilik. Jy sien nie die struikelblokke nie. Donker is beklemmend. Ons het nie net uiterlik lig nodig om ons weg te vind nie, maar ook innerlik, sodat die hart nie donker en die siel moedeloos word nie. Jesus kon ook nie altyd die lig sien nie. In Getsemane was dit vir Hom donker. Aan die kruis voel Hy verlate, met die natuur-in-simpatie: Daar was duisternis oor die hele land. Tog is dit hierdie Jesus wat sê: Ek is die lig vir die wêreld.

In Jesus herken ons God se lig – in hoe Hy praat en optree in die wêreld. Hy genees, vergeef, aanvaar. Hy gee hoop en moed. Wie in hierdie lig lewe, loop nie meer in die donker nie. Julle is die lig vir die wêreld, sê Jesus in Matteus (5: 14). Hiermee vertrou Jesus die lig aan ons toe, sodat ons klein ligmomente kan wees vir mekaar – ’n vriendelike woord, hulp aanbied, die ander as mens raaksien. Dan word hul lewe verhelder.

Prof Yolanda Dreyer, Emeritus/Nederlandssprekende Gemeente

Share via
Copy link
Powered by Social Snap