Romeine 15: 12

Do not confuse care with cure. Wanneer iemand seer het, dink ons vinnig ons moet die seer gou fix. As jy sterk is, huil jy nie. Wanneer ons seer het, wil ons so gou moontlik daaroor hardloop sodat ons met ons lewens kan aangaan. Ons gryp na maklike antwoorde. Toemaar, die Here weet mos altyd die beste, troos ons die vrou wat haar werk verloor het. Die Here kies altyd die mooiste blom vir sy tuin, vertel ons vir die ma wat haar kind aan die dood moes afstaan. Ag toemaar, môre gaan alles beter, probeer ons hoop gee aan die moedeloses. Dis ’n gou-afvee, vinnig-aanbeweeg, leë optimistiese teologie. Dis nie om vir iemand hoop te gee nie. Hoop is ’n verklaring dat ek aan God se trou vashou, dat ek die God van die heelal vertrou met my hele wese. Dis die aanvaarding dat, ongeag my situasie en hoe die wêreld rondom my lyk, God die heelal en vir my in sy hande hou.

Die evangelie van Jesus Christus, die goeie nuus van God se Liefde, maak ruimte vir pyn-sonder-antwoorde en roep-ten-hemele. Vir klaagliedere, woede en vrae. Ons kan nie omdat ons glo dat God ons anker is, ons vaste hoop, iemand se seer net regdokter nie. Net God en tyd kan. Ons kan wel omgee. Ons kan hoop vir mekaar doen. Ek kan saam met ’n ander persoon staan, in haar skoene, en meegevoel hê. Saam uitroep: Waar sal ons hulp vandaan kom? Ek kan ’n drukkie gee, sonder onnodige woorde. Ek kan ’n bord kos aandra sonder die verwagting om iets terug te kry. Ek kan die sensitiwiteit aanleer om raak te sien wat nóú nodig is en die moeite doen om die nodige te laat gebeur. Ek kan vir ’n ander die seënwoorde van Paulus aan die Romeine toebid (Rom 15: 13): Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link