Markus 7: 27-28

’n Heerlike stukkie spek met ontbyt is nie te versmaai nie. Vir die tipiese Jood is dit ongelukkig nie beskore nie. Varke en varkvleis moes vermy word (Lev 11: 7; Deut 14: 8). Dis onheilig in hul oë.

Met ’n vark in die verhaal beklemtoon Jesus die verlore seun se vernedering toe hy in ’n ver land varke moes gaan oppas (Luk 15). Ook toe Jesus duiwels uitgedryf het uit ’n besetene, vlug die bose geeste in die varke in en die varke vlug die see in (Matt 8; Mark 5).

Varke en honde is as onrein beskou en word onder andere ook saam in beeldspraak gebruik. Petrus praat van Christenbekeerlinge wat God se wil leer ken het en weer verval in hul ou weë deur te sê: Van hulle is die spreekwoorde waar: “’n Hond gaan terug na sy braaksel toe” en: “’n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder.” (2 Pet 2: 22).

Jesus sê ook: Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie … en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie… (Matt 7: 6). Die heidene is deur die Jode honde genoem. Dis vreemd vir ons wat honde as troeteldiere liefhet.

Jesus sê vir die Siro-Fenisiese vrou wat hulp vra: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” (Mark 7: 27-28). Eintlik het Jesus waarskynlik juis die vrou gebruik om die Jode te beskaam. Die Jode het immers die brood van die lewe ontvang en tog het baie van hulle dit verwerp, terwyl die heidene (die hondjies) dit gretig aangryp.

Ons, wat nie Jode is nie, kry nie net krummels of oorskiet nie, maar die volle evangelieboodskap en die volheid van God se genade in Jesus Christus. Met dankbaarheid ontvang ons dit en kan ons dit deel.

Ds Louw van der Linde, Evander

Share via
Copy link
Powered by Social Snap