Matteus 17: 1-8

Sy Palestynse tydgenote het hard probeer om Jesus te etiketteer en Hom in hul eie mensgemaakte kassies te sit. Ons probeer ook baie maal om God te verpak soos dit ons pas. Petrus-hulle het dalk ook probeer om dit te doen. Dit verklaar moontlik die volgende klim-uit-die-kassie-ekspedisie waarop Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes geneem het, daar na Jesus se verheerliking op die berg.  

In ’n oogwink was Petrus-hulle soos muskiete in ’n arend se skaduwee. Hulle het Jesus nog nooit so gesien nie. Hulle het Hom gesien in aksie op die water, selfs met ’n klein bietjie padkos voor ’n honger skare, en hoe Hy mense uit die dood opwek. Maar Jesus in die helder blink voorkoms van ’n “hemelwese”? Geen wonder hulle was bang nie! Wanneer laas het jy hierdie vrees beleef – die vrees vir God? Daardie vars besef wie Christus regtig is, wat jou knieë laat bewe het en die lug uit jou longe geslaan het? As jy dit lanklaas beleef het, verduidelik dit dalk waarom jy so baie ander vrese in jou lewe saamdra.

As ons wel besef wie Hy regtig is, meer as net ’n mens, verminder die vrese van die lewe. ’n Almagtige God lei ons tot dapperheid. ’n Verkleinde siening van God genereer geen dapperheid nie. Ons reken dat ’n gewone “Jesus” geen mag het teenoor kankerselle, korrupsie, diefstal, aandelebeurse wat in duie stort, of die wêreld wat verval nie. ’n Verpakbare, draagbare “Jesus” kan dalk in ons beursies of op ’n rak pas, maar kan niks doen aan jou vrese nie.

Dit moet wees waarom Jesus sy dissipels teen die berg opgevat het. Jesus het die kassies gesien waarin hulle Hom verpak het. Om God in ’n kassie te wil indruk, kan eenvoudig nie werk nie. Daarom blaas Christus die kante van hul kassies van vooropgestelde idees oor Hom totaal en al weg, sodat hulle die Hemelse kan raaksien. Mag Jesus jou en my kante van die kassies waarin ons Hom wil inforseer ook oopblaas. Het ek en jy nie ook nodig om die Jesus wat van gedaante verander het, te sien nie?

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link