Johannes 14: 1-14
Drie groot vrae in die middel van die week, maar vrae waarmee almal worstel. Wanneer jy klaarheid het oor wie jy is, hoe jy wil optree en waarvoor jy staan, dan kan jy uitvind waar jy inpas. Wanneer die eerste twee vrae antwoorde het, dan sien jy kans vir die laaste groot vraag: Wat is my doel?
Drie vrae wat nie duidelike antwoorde het wanneer jy weer die gedeelte lees nie, of hoe? Drie belangrike vrae, maar vra jy dit in die regte volgorde? Johannes stel ’n ander volgorde voor: Waar is jou plek, wat is jou doel, en laaste, wie is jy? Verse 1-4 gee vir jou ’n ander plek as jou fisiese adres op aarde – jou plek is nie hier nie, maar by God. Daarom moet Jesus volgende Donderdag opvaar om hierdie plek vir jou voor te berei. Jy hoef nie hieroor te wonder of te twyfel nie. Jy het ’n plek waar jy geliefd is en waar jy hoort.
Wanneer jy besef dat alles wat hier gebeur, nie die finale sê oor jou lewe het nie, sien jy wat jou doel hier op aarde is. Jy moet deur Jesus na die Vader gaan. Jy moet Jesus se weg volg, sy waarheid leef en in sy lig leef. Hierdie weg en waarheid is anders as dié van die wêreld, want jou plek is nie hier op aarde nie. Daarom lyk jou lewe anders en is jou doel anders. Dan besef jy wie jy is. Jy is nie die gejaagde persoon wat gebuk staan onder die druk van ander nie. Jy is nie die slaansak vir mense se woorde en dade nie. Jy is God se geliefde kind. Jou lewe word deur God se seën en vrede omarm.
Die antwoorde is dalk nie so voor die hand liggend nie, maar dit herinner jou waar jou plek is. Dit roep jou op om vandag sy weg en waarheid te volg. Dit bevestig aan jou dat jy God se kind is, en niemand kan dit van jou wegneem nie!
Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend
