1 Petrus 3: 13-22

Die skip USS Consolation (1945-1955) het in drie oorloë troos gebring, soos wat die skip se naam suggereer, in terme van mediese dienste vir talle mense in die oorloggeteisterde gebiede. ’n Mens sou dink dat dit ’n hartseer dag moes wees vir so ’n skip, wat vir so baie mense hoop gebring het, om na net tien jaar se diens te moes ophou. Die wonderlikste is egter dat die skip in 1955 oorgeneem is deur die People to People Health Foundation, waar die skip onder ʼn nuwe naam (SS Hope) verdere hoop vir mense gebring het. Daar kan geredeneer word dat hierdie skip oral en te alle tye getuig het van die hoop wat die bemanning van die skip probeer leef het.

In 1 Petrus 3 probeer die skrywer gelowiges te midde van moeilike omstandighede herinner waarin hulle hoop lê. Hulle behoort dit te beskou as ’n voorreg as hulle vervolg word vir die goeie wat hulle doen (verse 13-14). Jesus Christus word vir hulle as voorbeeld voorgehou as Een wat onskuldig vir skuldiges gely het (verse 18-21). Hul troos en hoop lê egter daarin dat alle aardse magte en kragte oorwin is deur Jesus Christus se opstanding (vers 22). Wat moet gelowiges dan doen te midde van moeilike omstandighede?

Teen die agtergrond van die eerbied wat hulle het vir Jesus Christus, behoort gelowiges te alle tye gereed te wees om te getuig van die hoop wat in hul harte leef (vers 15). Wanneer gelowiges bewus word van die nuwe lewe wat Jesus Christus vir hulle bewerkstellig het, kan hulle nie anders nie as om te getuig van daardie hoop wat in hulle leef.

Mag ons bewus word van die nuwe lewe wat Jesus Christus vir elkeen van ons bewerkstellig het, en mag ons dan gaan getuig – soos die skip SS Hope – van die hoop wat in ons leef.

Ds Steve Oxton, Wapadrant

Share via
Copy link
Powered by Social Snap