Filippense 1: 3-6

Voor ons oor die wederkoms van Jesus kan begin dink, moet ons eers terugstaan en na die verlede kyk. God het aan die begin alles geskep en Hy het die lewensasem in die mens ingeblaas. Selfs toe alles nog dol en leeg was, het die Gees van God oor die aarde gesweef (Gen 1: 2). God is nog van altyd af daar, van die heel begin af (Joh 1: 1). Paulus skryf dat ons elke dag deur God lewe, beweeg en bestaan (Hand 17: 28).

Ons lees in die Bybel die verhaal van God en sy mense. Ons lees van die handeling en ingryping van God in die mense se lewens. God is nog altyd met die mense. So ook getuig Jesus se lewe, kruisiging en opstanding van God se teenwoordige liefde vir ons. God is nog altyd met ons.

Paulus skryf vir die gelowiges, en dus ook vir my en jou, dat ons nie oor God se teenwoordigheid in die toekoms hoef te twyfel nie, net soos ons nie oor die verlede hoef te twyfel nie. Net soos ons die verhale van die verlede lees waar God teenwoordig was in die lewens van die mense, so ook kan ons vir seker weet dat God teenwoordig sal wees tot aan die voleinding. Ons kan seker wees daaroor, danksy die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus.

Nou word ons deur Paulus se woorde verseker dat God tot heel aan die einde met ons sal wees. Nie net gaan God met ons wees nie, maar Hy gaan ook die goeie werke wat Hy in ons begin het, tot die einde toe deurvoer. God is met ons, en Hy sal die goeie werke in ons laat voortgaan, tot die wederkoms van Jesus Christus, ons Here.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

af
af
Deel met behulp van
Copy link