Psalm 22

Hoekom het U my verlaat? Hierdie retoriese vraag herinner ons aan omstandighede wat ons almal vrees, omstandighede wat maak dat ons ook van God verlate kan voel. Soos vir die Psalmdigter, lyk dinge rondom ons dalk vir ons donker en seer. Ons kon miskien ons werk of ’n geliefde verloor het, of dalk voel dit of ons lewe stuk vir stuk uitmekaar val. Ons bid en smeek, maar dit voel asof ons gebede net teen die dak vassteek.

Dit is ongeveer hoe die Psalmdigter gevoel het. Dit is waarom hy wonder of God hom dan verlaat het. Dit voel asof hy alleen is. Sy vyande staan om hom, sodat hy hulle as brullende leeus beskryf wat wag om hul prooi te verskeur. Hy is moeg en uitgeteer. Hy beskryf hoe hy elke been in sy liggaam kan tel, so uitgeteer is hy. Hy word gespot en voel waardeloos. Die ironie van die saak is dat God nog altyd by die Israeliete was. Die skrywer noem dit self: Op U het ons voorvaders vertrou en U het hulle gered. Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry.

As hy dit onthou, of homself daaraan herinner, verander sy klaaglied in ’n loflied. Hy besef dat God hom nooit sal verlaat nie, en juis in sulke tye by hom is, al kan hy dit dalk nie fisies ervaar nie. Dit is die wonder en misterie van God. Tydens die laagtepunte in ons lewens, wanneer ons twyfel en met God worstel, voel God ver en asof Hy ons nie hoor nie. Maar, soos die Psalmdigter, sal ons ook ontdek dat God altyd daar is, selfs in ons twyfel, en juis wanneer dit voel asof Hy ons verlaat het. God verlaat ons nie, en daarom kan ons op Hom en sy versorging vertrou, soos wat Hy ons ouers en al die geslagte voor hulle ook nooit verlaat het nie.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link