Matteus 13: 44-50

Die man in die eerste gelykenis se optrede hoef nie ondersoek te word om vas te stel wat die aard daarvan is nie. Hy is skelm. Die algemene beskouing van handelaars, soos die een in die tweede gelykenis, word deur die eerste-eeuse filosoof en geskiedkundige Filo opgesom as hy sê dat handeldryf ’n “perversie” is. Volgens Filo het handelaars geen wysheid nie, wy hulle nie hul rede aan oordenking of kennis nie, en bespreek hulle nooit deugde of moraliteit nie, want hulle oorweeg ewiglik slegs wins.

Wat die skelm en die handelaar met hul nuutgevonde skatte maak, sê Jesus nie. Dalk maak hulle wins en buit uit, dalk span hulle dit vir God se koninkryk in. God se koninkryk bied aan alle soorte mense die geleentheid om enige oomblik hul skatte, winste en talente volgens God se wil te begin rig. Totdat hulle aan wal getrek en ondersoek word, is elke soort vis deel van die vangs. Die Visser sal self besluit wat goeie vis is, en wat nie. ’n Vis wat die besluit namens die Visser maak, is nie goed vir die vangs nie.

Skrifkenners weet wat goed en wat sleg is. Hulle oorweeg deugde tot vervelens toe. Maar dié wat verstaan wat die drie kort gelykenisse beteken, verstaan dat die oordeel van skrifkenners se wysheid mense soos die skelm en handelaar van hul potensiaal vir God se koninkryk stroop. ’n Skrifkenner wat ’n leerling in daardie koninkryk word, het steeds die ou skat om goed en sleg te onderskei, maar ook ’n nuwe skat in die insig dat goed en sleg ook, onderskeidelik, slegte en goeie potensiaal het.

’n Skelm wat verwerp word omdat hy skelm is, sal altyd op skelmstreke moet staatmaak om te oorleef. ’n Handelaar wat genooi word om in skrifkenners se geselskap te eet, se aandag word vir ’n rukkie op deugde eerder as wins gefokus. Ons potensiaal om nie te oordeel nie, skep vir ander die potensiaal om nie veroordeel te word nie.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap