Prediker 3: 1-9

Met die opskrif van hierdie gedeelte kondig die Prediker aan dat hy in sy soeke na die sin van die lewe, krities na lewensgebeure gaan kyk. ’n Mens sou verwag dat die Prediker die insig wat in die vorige gedeelte ontdek is, positief sou uitwerk, maar helaas nie. Die retoriese vraag in vers 9 van hierdie gedig is eintlik ’n stelling wat weer eens verklaar dat ’n mens se soeke na sin en betekenis op niks uitloop.

Hierdie gedeelte is een van die bekendste gedeeltes in die boek, maar word dikwels verkeerd verstaan en toegepas. Die Prediker gee nie hiermee voorskrifte of opdragte oor wat ’n mens moet doen om sinvol te kan leef nie. Hy beskryf lewensgebeure waarin jy kan beland en waaraan jy niks kan doen nie – wat gebeur, gebeur.

Dit is ook belangrik om iets te verstaan van die samestelling van hierdie gedig. Dit illustreer nie alleen die diepe nadenke van die Prediker nie, maar help ons ook om dit te verstaan. Die inhoud van die gedig (3: 2-8) word in 14 versreëls (’n tipiese sonnet) uiteengesit. Elke versreël bevat twee helftes wat die tydsgebeure as stellings teenoor mekaar stel. Die Prediker beleef die lewensgebeure as ’n spanning tussen die pole van lewe en behoud teenoor dood en verlies waaraan die weerlose mens uitgelewer is. Of dit wat oor hom kom vir hom gunstige of ongunstige tye sal wees, hang nie van sy wyse optrede of harde werk af nie. Hy is uitgelewer aan die noodlot. Hy vertolk selfs God se optrede in mense se lewens as willekeurig en daarom onberekenbaar (2: 26). 

’n Wysheidsleraar se taak is om sy leerling te bemagtig om met wysheid te leef, dit is om die regte keuses te maak en sodoende die negatiewe realiteite van die lewe so goed moontlik te voorkom. Hierin slaag die Prediker nie. Hy laat ons eintlik in ons soeke na sin en betekenis met onsekerheid. Maar ons is nie uitgelewer aan die noodlot van tyd en gebeure nie. God is die gewer van lewe. God bepaal jou tyd en gebeure. Dit is ons troos! 

Ds Japie Coetzee, Emeritus     

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link