Markus 9: 14-24; Matteus 14: 22-32

Stom van verbasing. Stom van skok. Stom van hartseer. In ons taal gebruik ons die woord “stom” om te verwys na ’n algehele onvermoë om iets tot uitdrukking te bring. Onverwagse en traumatiese ervarings ontneem ons van woorde, soos Job se vriende wat sewe dae en sewe nagte saam met hom in stilte sit, of die Psalmdigter van Psalm 137 wat sy lier ophang. Hierdie woordeloosheid voor God hou verband met ’n verlies van vertroue en die onvermoë om ’n ander situasie, anderkant die trauma, te visualiseer.

In die populêre film Indiana Jones and the Last Crusade, moet Indiana Jones in ’n stadium die ander kant van ’n diep kloof bereik deur ’n onsigbare brug oor te steek. Hy kan dit aanvanklik nie doen nie, en vries. Hy vat later maar ’n kans en steek ’n tentatiewe voet uit. Sodoende kry hy ’n idee van waar die brug is, en só bereik hy uiteindelik die ander kant van die kloof.

Dit is nie maklik om daardie eerste, tentatiewe tree te gee nie, veral as jou omstandighede jou afgestomp gemaak het. Die pa van die seun wat siek is sowel as Petrus sukkel om daardie tree te gee. ’n Mens kan sien dat hulle so graag ’n geloofsprong wil maak en dat hulle so graag wil vertrou: Ek glo! sê die pa, en Beveel my om op die water na U toe te kom! sê Petrus. Maar hulle sukkel om daardie eerste tree te gee, hulle sukkel om die geloofsprong op hul eie te maak: Help my in my ongeloof, sê die pa, en Petrus sê Here, red my!

Gelukkig is ons nie soos Indiana Jones op onsself aangewese om die sprong te maak nie. Ons is nie op onsself aangewese vir die vermoë om die kloof van ons trauma en omstandighede oor te steek nie. God steek eerste die hand uit en kom ons tegemoet: God oorbrug die kloof van ons woordeloosheid en ons verlies van vertroue. Ons hoef net daardie Hand te vat.

Prof Tanya van Wyk, Universiteit van Pretoria / Nederlandssprekende Gemeente

 

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap