1 Konings 19: 1-12

Die Kangogrotte lê in die Swartbergreeks, en daar word bereken dat die grotte oor 5,3 kilometer strek! Drie mans het in 1780 ’n grot binnegegaan. Een van hulle, ’n man met die van Van Zyl, is deur sy mede-ontdekkers vasgehou terwyl hulle hom in die grot laat afsak het. Vandag is die grotte toeganklik vir toeriste. In die boek Wonders van Afrika skryf Dawid van Lill: Aan die einde van die toer kan die dapperste toeriste deur ’n kamer met die naam “Duiwel se kombuis” gaan, dan deur die “Duiwel se skoorsteen” beweeg en uiteindelik ’n nou gleuf bekend as die “Posbus” aandurf.

Soos Elia, vlug ons soms die “grot” in, want ons is moedeloos en bang. Depressie steel ook maklik ons gesonde oordeel. So maklik word ons insig ingeperk, en dan twyfel ons, hetsy aan onsself, ons medemens of ons wêreld. Elia laat selfs sy slaaf agter, as ’n teken dat hy sy roeping neerlê. Hy word egter twee keer versterk. Hierdie moedelose profeet moes eers weer sy God ontmoet. Elia moes ervaar dat die Here nie dié keer sou verskyn in natuurwonders van wind, aardbewing en vuur nie. Natuurrampe ruk mense, maar verander nie noodwendig hul gesindheid nie. In die fluistering in die windstilte voor die grot, leer Elia dat die Woord nou juis in swakheid gehoor sal word.

Soms word die antwoord oor waarom ons nog hier is maar ’n flouerige, verskonende gestamel. Vir seker het ons nie meer die moed om ontdekkingsreisigers te wees nie. Ons glo ook nie dat mense ons sommer as “dapper” sal beskryf nie. Die “Posbus”, die noutes en engtes, word op ’n dag net te veel. Dit is wanneer ons ervaar dat ons Here ons voed en versterk. Juis in die fluistering in die windstilte weet ons die Lydende Kneg herstel ons roeping. Ook ons mag by die berg Horeb kom en ervaar hoe ons Heiland ons roep vanuit die “grot” tot bemoediging, om sy almagtige Godsverskyning te ervaar.

Gebed

Troue Hemelse Vader, ons dank U vir u teenwoordigheid onder alle omstandighede. Laat ons uit die “grot” kom en met verwondering weer die fluistering in die windstilte hoor. Aan U al die eer. Amen.

Psalm 33: 1 en 7

Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum

Share via
Copy link
Powered by Social Snap