Jesaja 5: 1-7; Lukas 20: 9-19

In die koninkryk van God sal dit nooit met enige iemand heeltemal so goed gaan as met die magtige mense in aardse koninkryke nie. Die vorm wat voorspoed van die magtiges in aardse koninkryke aanneem, kan immers nie sonder onreg en die hulpgeroep van verontregtes bestaan nie. Dit maak aanspraak op oorvloed te midde van skaarste. Dit dring aan op meer as wat nodig is, selfs ten koste van wat nodig is in ander se lewens. Dit vereis die demonisering van magtelose mense sodat magtiger mense hul weerhouding van liefde kan regverdig. Goed wat nie in God se koninkryk beoefen word nie.

En wanneer ons die teiken van onreg word, wanneer die hulpgeroep van verontregtes uit ons geledere begin opklink, soos onder die Judeërs van Jesus se tyd, is die antwoord vir seker nie dieselfde onreg waaroor ons roep nie (naamlik geweld, haat en skeiding). Die antwoord is die koninkryk van God, wat deur genade as wingerd geplant is in elkeen van ons se eie lewens, afgesien van wie regeer of die onreg wat ons moet verduur. Die leringe van Christus is as wagtoring en doringheining opgerig om daardie wingerd te bewaar, sodat dit goeie druiwe volgens daardie leringe kan voortbring. Sodat God die omstandighede waaroor ons roep, met daardie oes kan verander.

Dis die wingerd wat sal vrug dra vir sy koninkryk. Óf in ons eie leeftyd indien ons afstand kan doen van die menslike skeidings wat ons as klipmure vir sy wingerd probeer vestig, óf ná ons leeftyd wanneer daardie skeidings saam met ons gesterf en vergete geraak het. Soos die skeidings tussen Judeër en Samaritaan. Soos die skeidings tussen Griek en Jood. Soos die skeidings tussen Romein en watter etnisiteit ook al wat destyds so belangrik was dat die hoeksteen daarvoor afgekeur is, terwyl dit nou nie eens onthou word nie. Maar Christus as voorbeeld van God se regering in ons lewens, is ewig. Dit is ’n hoeksteen wat bly staan millennia nadat die klipmure omgeval het.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link