Psalm 131

Pelgrims was baie kwesbaar wanneer hulle na Jerusalem of elders reis. Hulle was dan ver van die huis af en die gevare wat hulle op die pad kon teëkom, was talryk. Wilde diere, rowers, siekte… Waar sou hulle kos kry terwyl hulle reis? Hulle kon nie alles saam karwei nie. Daarom kon so ’n reis vir groot onrus sorg. Waar sou so ’n pelgrim rus vir sy siel vind?

’n Mens is geneig om op jou eie krag en vermoë staat te maak, om jouself as groot en sterk genoeg te sien om self reg te kom. Maar dis nie wat hierdie Psalmdigter doen nie. Hy soek sy toevlug op ’n ander plek. Hy wend hom liewer tot God. ’n Groot mens wat eerder soos ’n klein kindjiie voor God word. Soos ’n kindjie by sy moeder.

God is vir hierdie gelowige soos ’n moeder. Die Here het mos al vir sy volk gesê: Soos ’n moeder haar kind troos, so sal Ek julle vertroos. By God kan ’n mens rus vind in ’n onstuimige en rustelose wêreld, soos ’n kindjie wat veilig voel in die arms van sy moeder. Jou hart word rustig. Die kerkvader Augustinus het dit so verwoord: Ek is onrustig in my hart, totdat ek rus vind in U, o God.

Waar vind jy vandag rus? Rus te midde van al jou bekommernisse en benoudhede? Daar is baie keer soveel dinge waaroor ons besorg is. Waar vind jy dan ware rus? Slegs daar waar jy voor die Here tot rus kom deur jou na Hom te draai. Die kerk as die gemeenskap van gelowiges behoort so ’n plek van rus te wees vir ons, ’n ruimte waar ons weer kan asemhaal. Waar mense hul bekommernisse en alles waaroor hulle besorg is, voor God kan lê. So nooi Jesus jou ook uit om jou bekommernisse na Hom te bring. Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Ds Arie Kuyper, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link