Matteus 5: 38-48

In sy bergrede praat Christus onder andere oor jou optrede teenoor ’n kwaadwillige mens. Hy dui die pad aan vir ’n vars, nuwe optrede wat die koninkryk laat deurskemer. Iets van God se koninkryk breek deur as jy besef dat die sesde gebod nie net moord verbied nie, maar dat alle oortredinge teenoor jou naaste daarby ingesluit is. Soos om te skinder of om sonder rede vir jou naaste kwaad te wees. Ons dien die koninkryk as ons in ons optrede teenoor ons naaste sy welsyn en voordeel in die oog het.

Om die ander wang te draai, moenie letterlik verstaan word nie. Wanneer ’n kwaadwillige mens teenoor jou optree en dis soos ’n klap op die wang, moet jou houding nie deur sy gedrag bepaal word nie. Moet jou nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie, moenie doen wat hy doen nie. Wees eerder kreatief, tree op soos ’n burger van die hemelse koninkryk. Doen iets heeltemal anders as wat jou vyand te wagte sou wees. Maak jouself weerloos, draai die ander wang, doen die liefde.

Christus leer ons om die ander wang te draai. Hy daag ons uit om die geweldspiraal te breek, om geweld met liefde te beveg. Geweld kweek geweld, liefde en respek kweek liefde en respek. Wie voortdurend gefokus is op wraak en vergelding, se menslikheid word stelselmatig afgebreek. Om jou vyand lief te hê, is menslik onmoontlik. Ons wat dit waag om in Christus te glo, het egter kinders van God geword. Ons Vader is goed, Hy vra nie wie die goeies en slegtes is voor Hy sy gawes gee nie. Hy gee sonder voorwaardes.

In die lig van ons Vader se liefde, begin hierdie opdrag sin maak. Liefde vir die vyand is om iets van God se liefde sigbaar te maak in jou optrede. Hoe vindingryk woeker ons met hierdie liefde?

Gesang 530: 1-3; Gesang 532: 1-3

Ds Petri de Kock, Pierneef

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link