Johannes 20: 1-20 en 26-30; 21: 1-6 en 11-14
Johannes vertel van vier verskynings van Jesus na die opstanding – een maal aan Maria Magdalena en drie maal aan die dissipels. Johannes verkondig dat Jesus werklik opgestaan het en dat sy opstanding alles verander.
Maria, Petrus en Johannes kom by die graf aan. Die klip is weggerol. Vir Maria beteken dit: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie. Sy huil. Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie sin nie. Die graf is leeg, hulle verstaan nie, en hulle gaan huis toe.
Maria se hartseer verander in blydskap wanneer Jesus Hom aan haar bekend maak en sy getuig (Joh 20: 18): Ek het die Here gesien! Nie net Rabboeni nie, maar Here! Later kry Tomas ook die voorreg om te getuig (Joh 20: 28): My Here en my God!
Ons leef in ’n wêreld waar iets nie maklik geglo word sonder bewyse nie. Daar is ook soveel valse boodskappe. Wat maak ons met die boodskap oor Jesus se opstanding? Glo ons dit, sonder bewyse? Het die boodskap van die opstanding ’n veranderende impak op ons lewens? Ons glo ten diepste nie in die leë graf nie. Ons glo selfs in veel meer as die feit van die opstanding. Ons glo in die lewende Here Jesus. Ons glo in sy nabyheid en teenwoordigheid. Ons glo in die Here! Hy wat ons lewens verander. Ons glo nie in ’n leë graf nie, maar áán die feit dat die graf leeg was.
Laat toe dat die Here in jou hart opstaan. Weet dat Christus, soos vir Maria, ook jou hartseer sal wegneem en jou trane sal afdroog sodat jy weer vol vreugde kan wees; dat Hy jou vrees en angs sal wegneem en vir jou vrede en blydskap sal gee, soos Hy gedoen het daardie Sondagaand aan sy dissipels agter toe deure; dat Hy jou, soos ’n twyfelende Tomas, sal bemoedig en sal lei om te glo, al is dit in bitter moeilike omstandighede. Laat Hom toe om jou te voed en te versorg soos Hy gedoen het met die dissipels op die strand.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
