Markus 15: 21-41

Die dag ná die kruisiging kon die dissipels waarskynlik aan niks anders dink nie. Ons kan maar net saam met hulle die gebeure oorweeg.

Lukas vertel nog van een van die rowers wat saam met Jesus gekruisig is wat berou toon. Maar hier in Markus is hy nie daar nie. Net slegte mense. Mense wat vir Jesus wyn gemeng met mirre wil gee wanneer Hy by Golgota aankom. Net twee rowers wat Jesus saam met die leierpriesters en skrifkenners bespot. Soldate wat spottend sê Elia sal Hom dalk kom red.

Maar as hulle sleg is, dan is ons dalk ook. Sommige Jode het soms voor kruisigings vir veroordeeldes onverdunde wyn of wyn gemeng met dwelmmiddels gegee om hulle te bedwelm of bewusteloos te laat in ’n poging om hulle die komende smart te spaar. Goeie, magtelose mense.

Die leierpriesters en skrifkenners leef in ’n wêreld waar hul mense gekruisig word vir nasionalistiese gedagtes. En met Jesus wat Messias genoem word, is daar baie meer sulke gedagtes aan die broei. Hulle moet hul kuddes daarteen beskerm. Sal ons nie verwag dat kerkleiers standpunt moet inneem as iemand uit Brakpan sê Hy is die seun van God en baie volgelinge begin kry nie? Sal ons nie self spottende plasings op Facebook deel, veral as so iemand sou misluk in sy “roeping” nie? Gelowige mense, mense wat dink hulle beveg die bose.

Die Romeinse soldate by die kruis verstaan nie Jesus se taal nie. Vanuit hul beperkte kennis van Joodse legendes en leringe dink hulle Hy roep na die dooie vader Elia. Kyk of Elia jou gaan help. Kyk of die voorvaders gaan inspring. Dis makliker om te spot as om te verstaan. Onkundige mense, wat dink hul manier is die beste manier om orde te bewaar. Dis nie slegte mense nie. Dis vroom mense. Goeie mense. Swak, magtelose, onkundige mense. Mense vir wie God lief is. Juis die mense vir wie Christus gesterf het. Dit is ons. 

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link