1 Samuel 22: 19-23

In 1 Samuel word Saul en Dawid teenoor mekaar gestel. Ons lees op soveel plekke dat Saul ongehoorsaam was aan die Here. Ons lees dat hy jaloers was, hy het ’n obsessie met Dawid gehad. In alles wat hy gedoen het, het hy probeer om Dawid te vernietig. Uiteindelik het hy maar net sy eie ondergang bewerk. Dawid het heeltemal anders opgetree. Hy het nie gesoek na Saul se ondergang nie, hy het gesoek na God se wil. Al was hy gejag soos ’n misdadiger, het hy homself nie verloor nie. Hy het gehoorsaam gebly. Dit het nie goed gegaan met Dawid nie, nogtans het hy aangehou om reg op te tree en selfs vir Abjatar goed te wees.

Hierin lê ons les. Dit gaan nie altyd net goed nie. Daar is partymaal groot probleme en groot terugslae – by my werk, in my finansies, met my menseverhoudings. Maar hoe tree ek dan op? Al gaan dit nie goed nie, moet ek nie my geloof net afskryf nie. Al is my omstandighede nie heeltemal soos wat ek dit wil hê nie, dís nie ’n verskoning om op ander te trap nie. Al werk al my planne nie uit nie, dit is nie ’n rede om apaties en verhard te wees nie.

Op daardie dae wanneer dit voel asof alles verkeerd loop, moet ek op Dawid en Abjatar se voorbeeld let. Moet ek my las nóg swaarder maak met die gevolge van sonde en ongehoorsaamheid? Hoekom sal ek die lig wat God vir my gee, wil uitdoof? Hoekom sal ek sy hand wil wegstoot as Hy my wil help dra? Dit is juis in tye van swaarkry dat ons geloof die heel meeste sin maak.

Daar waar teenspoed en versoeking vandag oor my pad kom, kom ek maak weer opnuut erns met gehoorsaamheid, kom ek probeer wéér om goed te wees vir die mense rondom my. Deur dit alles sal ek God se teenwoordigheid en bystand op ’n baie besondere manier ervaar.

Ds Pieter Rossouw, Mafeking

Share via
Copy link
Powered by Social Snap