Job 12

Die wetenskap sê die aarde is 13,8 biljoen jaar oud. Volgens die Bybel is die aarde egter net meer as 6 000 jaar oud, en die Bybel is altyd reg. Dus, die wetenskap bedrieg ons. Dit is verstommend dat sommige Christene vandag nog so kan redeneer, maar dit gebeur tog. Behalwe dat die Bybel nie regtig sê die aarde is net meer as 6 000 oud nie, verklaar sulke uitsprake die geloof en wetenskap as vyande.

Tog, elke gelowige luister soms na die wetenskap. Ek ken immers geen gelowige wat nog dink die wetenskap was verkeerd toe daar ontdek is dat die aarde rond is en om die son draai nie. Selfs al sê die Bybel die aarde is plat met ’n doderyk onder die aarde, en ’n koepeldak (uitspansel) bo-oor die aarde met God se hemelse paleis bokant die hemelkoepel. Selfs al lees ons dat die son en maan oor die aarde as groot ligte beweeg, of dalk hemelwesens is wat aanbid word.

Daarom is dit interessant om in Job 12 te lees dat as ons wil verstaan hoe God se skepping werk, ons vir die natuur moet vra. Die diere en die voëls moet ons vertel, en die aarde moet ons leer, sê Job. Hoe kan hulle dit doen? Hulle vertel dit vir ons wanneer ons hulle bestudeer. Die natuurwetenskappe is immers niks anders nie as ’n bestudering van God se skepping. Spreuke sê maar dieselfde as dit ons leer: Gaan na die mier, luiaard, en word wys…

Tog, Job se insig het eers gekom toe God self praat. So leer ons ook: Vra gerus vir die natuurwetenskap, sien God se grootheid in sy skepping raak, leer hoe die skepping werk deur dit te bestudeer, maar onthou, sonder sy Woord sal dit wat ons leer en sien, nie sin maak nie. Dus, om regtig te verstaan, moet wetenskap en geloof hande vat. Laat ons God se Woord daarom elke dag bestudeer en ons lewens daarop bou, maar terselfdertyd nie nalaat nie om ook te luister na dit wat die wetenskap bied om te help verstaan.

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link