Job 39

Van die begin tot die einde word Job aangebied as ’n vroom en opregte dienaar van God (Job 1: 1; 42: 7-8). Maar te midde van sy toegewydheid, ervaar Job ontsaglik baie lyding in sy lewe (Job 1-2), tot so ’n mate dat Job selfs sy eie geboortedag vervloek (Job 3: 1-26). Dit laat Job wonder waarom hy, wat so opreg en toegewyd leef, hierdie tipe lyding moet ervaar.

Job se drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, gee hul mening, maar hul antwoorde weerspieël die tipiese ingesteldheid van die wysheidstradisies van antieke Israel: Job ervaar hierdie lyding omdat hy, wetend of onwetend, of iemand in sy familie, teen God gesondig het. As hy homself bekeer en sy sonde bely, sal hy weer voorspoed beleef. Maar Job bly vasstaan by sy oortuiging dat hy onskuldig is en dat hy sy lewe deur vroom en opreg as God se dienaar geleef het.

Dan spreek die Here self met Job, ’n antwoord in die vorm van ’n reeks vrae. Vrae oor die skepping van die hemel, die aarde en alles daarin, asook die onderhouding en die beheer daarvan (Job 38-41). En deur hierdie vrae besef Job waar hy in hierdie skepping staan, besef Job hoe klein die mens werklik is in vergelyking met die res van die skepping (Job 39: 36-38; 42: 1-6).

Daarmee saam besef hy ook hoe groot die Here is, die Here wie se dienaar hy is. Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit (Job 42: 2). En dit is juis in hierdie besef van Job dat die wonder van dié verhaal opgesluit lê. Aan die einde besef Job, en ons, dat daar nie altyd ’n rede gegee kan word waarom ons lyding ervaar nie. Terselfdertyd is daar ook die wete dat as jy saam met God wandel, kyk jy anders na jou lyding en swaarkry.

Gesang 516

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link