Lukas 10: 25-37

Die eerste deel van die gesprek tussen Jesus en die wetgeleerde verloop op ’n heel formele wyse. In die rabbynse tradisie is dit gebruiklik om vrae te vra wat die kennis van die gespreksgenoot toets. Soos dit die gebruik was in so ’n diskussie, beantwoord Jesus die vraag met ’n teenvraag, waarop die wetgeleerde dan die korrekte antwoord gee. In die Joodse tradisie is net ’n volksgenoot wat die wet onderhou, as ’n naaste beskou. Teenoor die res was ’n mens net gasvryheid verskuldig. Maar Jesus leer iets anders.

Met die strikvraag wou die wetgeleerde Jesus eintlik dwing om ’n definisie van ’n naaste te gee. Dit doen Jesus nie. Deur hierdie gelykenis of voorbeeldvertelling slaag Jesus op ’n uitmuntende wyse daarin om by die praktiese uitleef van naasteliefde uit te kom. Jesus vertel die storie op so ’n wyse dat dit nie anders kan nie as om die hoorder te betrek. Die priester en die Leviet is albei geestelike leiers na wie die gemeenskap opsien, die Samaritane is in die oë van die Joodse gemeenskap gehate mense wat as basters beskou is. Dit is hulle wat met die Assiriërs vermeng en ondertrou het. Die man wat onderweg na Jerigo aangeval en verrinneweer is, se nasionaliteit word, so lyk dit, om ’n bepaalde rede nie genoem nie.

Die priester en die Leviet se verskoning was waarskynlik dat hulle nie die reinigingswette wou oortree nie. Dalk was hulle bang dat hulle self aangeval kon word, of dalk was hulle net ongevoellig, hoe sal ons weet? Die Samaritaan, van wie ’n mens dit die minste verwag, tree sonder voor- of afkeur as die held op, nie net as ’n oombliksdaad nie, maar todat hierdie man gesond sou wees.

Jesus gee dus nie ’n definisie van ’n naaste nie, maar Hy vra die wetgeleerde: Wie was volgens jou die naaste van die een wat onder die rowers verval het? Op grond hiervan behoort ons vir onsself te vra: Wie se naaste is ek?

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link