Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Paulus sê dit twee keer. ’n Mens kan fokus op die dinge wat jou swaarmoedig maak, óf jy kan fokus op dié dinge wat jou bemoedig. Een van die dinge wat ons bemoedig, is om vreugde te vind in die Here. God is teenwoordig, by ons en saam met ons – te midde van alles. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug, sê Nehemia 8: 11.

Ons sê altyd vir mekaar: Fokus op die groter prentjie, kry perspektief. Soms is dit ook goed om op die kleiner prentjies te fokus, die legkaartstukkies – die lekkerte van die lewe te midde van die groter prentjie wat ons soms swaarmoedig maak. Die bekende TV-aanbieder David Letterman het met die musikant Warren Zevon ’n onderhoud gevoer nadat hy met kanker gediagnoseer is. Op Letterman se vraag of hy ’n ander perspektief op die lewe het, noudat hy siek is, het Zevon geantwoord: Ek weet nou hoe lekker ’n toebroodjie is. Besef ons nog hoe lekker ’n toebroodjie is? Proe ons die lekkerte van dit wat op ons broodjie is? Ons kan nie elke dag skaapboud eet nie, maar daar is soveel vreugde in eet – om al die smake, teksture en geure van kos te ervaar. En eet moet ons eet – elke dag. Ons kan netsowel van hierdie ervaring ’n vreugde maak. Sommige van ons bly wel in die stad, maar wanneer laas het jy die mooi van ’n somer-sonsondergang ervaar? Gaan kyk ’n bietjie vanaand!

Koester die oomblik. Die lekkerte van ’n warm bad en ’n warm bed. Geniet die klein oomblikke, dit wat ons elke dag moet doen en as vanselfsprekend aanvaar. Koester die mense om jou – daar is soveel humor in dit wat mense soms sê, in dit wat ons kinders en kleinkinders kwytraak. Geniet ook hierdie oomblikke. Dit neem net ’n paar minute om te fokus op dít wat jou bly maak, dít waaroor jy dankbaar is, dít wat jy van God ontvang het. Verbly jou in die vreugde wat die Here gee.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

Share via
Copy link
Powered by Social Snap