Matteus 2: 1-12

Ware en opregte liefde bekoor en trek nader en probeer ons vasbind aan die skenker van daardie liefde. God is liefde en God open ons oë om sy liefde raak te sien om ons ewig aan Hom te bind. Maar hoe kom die wyse manne by God uit? Hulle is ongelowig, vind uit die sterre hul wysheid en lewensvoorskrifte, en tog is hulle op pad na God toe.

Die sterrehemel het met hulle gepraat. Deur die taal van die natuur het God met sy soekende liefde hul lewens geraak, en hulle laat alles staan om die Koning van alle konings te gaan soek. Hulle wil aan Hom, wat die lig is wat alle duisternis laat verdwyn, gaan hulde bewys. Tog was die teleurstellings van hierdie wyse manne groot. Die sterrehemel-aanduiding was nie goed genoeg nie. Vanuit hul wysheid en natuurkennis het daar inligting ontbreek om die Koning van alle konings te vind. Hulle word wel gelei na die stad Jerusalem, die Godstad, die stad van die koningshuis en die profete. En tog is dit nie genoeg om Jesus te vind nie.

Dan word die heilige geskrifte, deur God geïnspireerde profeteboeke, gelees en ontdek hulle wysheid meer as wat sterre ooit kon bekendmaak. Hier, in die woorde van God wat die profete gebring het, hoor hulle die finale bestemming wat alle twyfel verwyder. Hulle sou hoor dat daar voorspel is dat Jesus gebore sou word in die stad Betlehem in Judea. Hulle, wat in hul wysheid sou roem, staan beskaamd en verneder omdat hulle God self hoor spreek het en ook nou ervaar dat daar waar God spreek, dit die einde is van alle soektogte.

In God se Woord vind ons die Verlosser, Hy wat mens geword het, ons sonde kom dra het en as God self ons sonde weggedra het. Hy vernuwe ons gedagtes, laat ons oë rus op die dinge wat by God is. Alleen uit Hom en deur Hom en tot Hom eindig al die soektogte wat ek in huis, verhoudings en die lewe in ’n gebroke wêreld kan ervaar. Ek vind die lewe in Christus alleen.

Ds Hans Britz, Standerton

Share via
Copy link
Powered by Social Snap