Sefanja 3: 14-20

Die feestyd is hier en Kersfees kom al hoe nader. Ons sien dit in die winkels se versierings en Kersbome. Opwinding! Maar in baie se harte heers die teenoorgestelde: dalk die eerste Kersfees sonder jou geliefde. Eensaamheid. Moedeloosheid.

Die Here roep Sion op om te sing. Jerusalem moet juig – in alles vrolik en bly wees. Maar hulle kan nie. Hulle is bang en moedeloos oor die uitsiglose omstandighede van die ballingskap. Sion se hande hang van moedeloosheid. Te midde van hierdie neerdrukkende omstandighede waarin Israel hulle bevind, spreek God en het hulle nodig om die volgende te hoor: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. Israel kyk na hul eie bestaan en is kwalik vol vreugde daaroor. Hulle is nie stil-tevrede nie. Hulle jubel en juig nie – inteendeel.

In hierdie laagtepunt van hul bestaan, tel God as’t ware hul hande wat moedeloos hang op met woorde van onvoorwaardelike liefde. God wat red. God wat nie alleen tevrede is nie, maar stil-tevrede in sy liefde is. God wat jubel en juig. Daarom kan Israel nie anders nie as om te sing en te juig en met alles wat hulle ís, vrolik en bly te wees, want God is dit vir hulle. So waar is hierdie woorde, sê die Here: Julle sal dit met julle eie oë sien.

Mag ons elkeen, in watter moedelose omstandighede ons ook al is, God beleef as die Krygsman wat red. Hy wat vol vreugde is – stil-tevrede in sy liefde – jubel en juig, ook oor jou. So waar is dít dat jy dit met jou eie oë sal sien.

Gebed

Ons Krysman wat red, dankie dat U in hierdie feestyd waar baie die teenoorgestelde voel in moedeloosheid, na ons kom met woorde van troos en bemoediging. Dankie dat U oor ons lewe vol vreugde is, stil-tevrede, en dat U jubel en juig – selfs daar waar ons dit kwalik vir onsself kan insien of doen. Amen.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap