Markus 1: 28, 33, 35-37, 45; 2: 1-4, 13; 3: 7-9, 20, 31-32; 4: 1, 35; 5: 21, 24-25, 31; en 6: 14, 30-34

Markus sê in elke hoofstuk van sy Evangelie dat Jesus gevolg is deur ’n menigte mense. Die belangstelling in sy leer en dade was oorweldigend. Mense het mekaar vertel van die timmerman van Nasaret se seun wat wonderlike dinge geleer en dinge gedoen het, en hulle het gestroom na Hom en na sy leer geluister.

Wanneer Hy Hom wou afsonder om te bid, het mense Hom gesoek. Hy het probeer om weg te kruip, maar mense het Hom gekry. Die skare rondom Hom het so groot geword dat Hy en sy dissipels amper nie kon beweeg nie. Die menigte mense wat Hom gevolg het, het selfs uit die wyer omgewing gekom. Hy was so oorval dat Hy nie eens kans kon kry om te eet nie!

Dan, sê Markus, het Hy soms probeer ontsnap aan die gedrang deur met ’n boot op die Galilea-meer te gaan. En as Hy aan ’n ander kant afklim, het die mense Hom vooruitgegaan en wag hulle Hom daar reeds weer in! Die mense het so rondom Jesus saamgedrom, selfs van alle kante teen Hom gedruk, dat Hy behoorlik mens-moeg geword het. Soos ’n jong mamma met kindertjies wat heeldag al haar krag opneem, en haar gebruik en selfs manipuleer vir hul eie voordeel en oorlewing. Soos ’n skooljuffrou wat met ’n woelige, dalk selfs ongehoorsame, klassie werk en deur die eise uitgeput word. Soos ’n verpleër wat in ’n saal vol veeleisende pasiënte met vriendelikheid en empatie na almal se behoeftes omsien.

Hy verstaan dat ons soms heeltemal uitgeput word deur mense, selfs dié wat ons liefhet, daarom sê Hy vir ons ook: Kom na My toe as julle uitgeput en oorlaai is. Kom saam na ’n verlate plek, en rus ’n bietjie op jul eie. Ek het dit nodig gehad, julle het dit ook soms nodig, sonder om skuldig te voel!

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link