Matteus 6: 5-8

In die bergrede het Jesus verskillende sake aangeroer. Hy het telkens by die wet en die Skrif begin en vir sy hoorders gesê: Julle het gehoor dat daar gesê is… Maar Ek sê vir julle… Jesus is nou teenwoordig en het verskyn – epifanie. Hierdie Jesus begin nou die mense leer. Hy gee nuwe inhoud aan gevestigde opvattings. Vandag luister ons hoe Jesus oor gebed praat.

Die gebedslewe van die Jode was goed georganiseerd en presies. Daar was voorskrifte oor wanneer gebid moes word, in watter rigting gekyk moes word en hoeveel keer gebid moes word. Gebed is dikwels misverstaan en beskou as ’n verdienstelike saak waarmee punte verdien kon word.

Jesus waarsku teen skynheiligheid. Dit is wanneer die skynheiliges in die sinagoges of op die straathoeke bid, hoorbaar en sigbaar. Hulle het gedink dat hulle bewonder word as regverdig en voorbeeldig. Hierdie openbare gebede het vertonings geword waarna die mense kon kyk. Jesus waarsku: Hulle het hulle beloning klaar weg. Hierdie openlike bewondering sou hul beloning wees. Daarteenoor leer Jesus hulle om liewer stil, eenkant, opreg en persoonlik te bid tot die Vader.

Jesus waarsku verder: …moenie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Tot vandag toe bestaan die opvatting dat eise en versoeke aan die Vader wat gedra word deur baie en luidrugtige woorde, suksesvol sal wees. Moet nie soos hulle maak nie. Jesus verseker hulle dat die Vader reeds weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom vra. Hy sê nie dat ons nie moet bid nie. Ons moet net besef dat ons gebede nie vir God nodig is nie, Hy weet reeds. Gebede is vir óns belangrik. Dit is die manier waarop ons by die Vader kan uitkom en die manier waarop ons ons nood en behoeftes kan uitspreek. God die Vader is altyd daar en Hy luister altyd.

Jesus wil hê dat ons moet bid, gereeld moet bid, maar kalm en bedaard moet bid. Ons kan met al ons nood tot die Vader bid. Kom ons bly bid.

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link