Johannes 11: 33-35
Hartseer is ’n emosie wat elkeen van ons al beleef het. As ek hartseer ervaar, staan ek voor ’n belangrike besluit – gaan ek dit onderdruk of nie? Gaan ek myself toelaat om my hartseer regtig te voel en te ervaar, of gaan ek afskakel? Daar is ’n gesegde in terapeutiese kringe: Everything that you resist, will persist. Hoe meer ons negatiewe emosies onderdruk, hoe meer dam dit op. En soms breek die wal…
Ons kultuur (en ja, ons godsdiens!) moedig ons aan om hartseer te onderdruk en daarby verby te leef. Kom oor dit! ’n Man huil mos nie voor sy bulldog nie. Dit is ’n teken van swakheid. Ons word van kleins af aangemoedig om ons trane te sluk. Moet tog net nie ’n scene maak nie. Kom tog net oor dit.
En ons godsdiens? Ek het grootgeword met die idee dat jy nie te veel moet nadink oor wat God oor jou pad bring nie. God weet die beste en klaar. Trane en vrae is ’n teken van disrespek. Aanvaar die Here se voorsiening. Wees positief. Lees positiewe teksverse. So sal jy krag kry. Wees altyd bly in die Here. Aanvaar jou lot. Maar wil die Here regtig hê dat ek my emosies moet onderdruk en my seer met Bybelverse sugar-coat? Moet ek kortpad vat, al my emosies onderdruk en so vinnig moontlik na aanvaarding spring?
Vir Jesus was huil nie ’n skande nie. Vir my is die grootste Jesus-wonderwerk dat Jesus mense se hartseer sien, dat dit Hom bewoë maak en laat huil. Hy verstaan ons seer en huil saam met ons! Wanneer ons ons hartseer diep wegsteek en nie daarmee werk nie, dam dit op en verteer dit ons. Wat maak jy met jou seer? Wat weerhou jou daarvan om jou pyn te omarm en te voel? Mag jy die waagmoed hê om saggies met jou seer om te gaan en Jesus toe te laat om saam met jou te huil.
Dr Sanrie de Beer, Philadelphia