1 Samuel 17: 37-45
Op pad na sy broers sou hy nooit kon dink dat hy teen ’n reus sou veg nie. Dawid was ’n jong seun toe sy ma hom dié dag gestuur het met kos vir sy broers. Hy was anders en sterker as ander seuns van sy tyd, want hy het geweet God is groter as die uitdagings voor jou.
Luister na sy storie, want dit kan jou storie word. Voor hom was ’n klomp bang Israeliete wat nie teen Goliat wou veg nie. In hul eie oë het hulle geen kans gehad teen die reus met sy spies en swaard nie. Kan jy jou die prentjie voorstel en hoor hoe die reus hulle tart? Die reus en koning Saul het gedink werklike krag lê in uiterlike dinge soos wapentuig, grootte en jou uitrusting. Dawid het nie daarop vertrou nie. Hy het op die Here vertrou.
In die verlede het die Here hom gered van talle bedreigings, soos ’n leeu en ’n beer. Dawid het geglo dat die Here hom ook sal red uit die mag van die Filistyn (vers 37). Soms is dit nodig om te onthou hoe die Here jou ook in die verlede versterk en gelei het. Deur terug te kyk en te onthou, kan jy met geloofsvertroue die toekoms betree.
Luister hoe antwoord Dawid vir Goliat. Hy sê vir hom: Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige… (vers 45). So het hy die reus met net ’n slingervel en ’n paar klippies in God se Naam verslaan. Wanneer jy voor groot uitdagings te staan kom, besef dan soos Dawid dat jy dit in die Here se Naam en deur sy krag kan hanteer.
Sien die reuse voor jou, maar meer as dit, sien God wat by jou is. Saam met Hom kan jy die uitdagings voor jou hanteer en kan jy weet, as God by jou is, is niks te groot nie.
Ds Louw van der Linde, Evander
