Johannes 1: 1-14

Lig en donker is belangrike simbole, ook in die Johannes-evangelie. In die donker sien ’n mens moeilik. Daarom is dit simbolies vir rigtingloosheid, onsekerheid, moedeloosheid en hulpeloosheid, maar ook vir misdaad en boosheid wat onder die dekmantel van die donker plaasvind, en natuurlik van die Groot Donker, die dood. Donkerte simboliseer daarom hooploosheid. So beskryf die Johannes-evangelie die mensheid. Hierin sou ons magteloos vasgevang bly.

Die goeie nuus is dat die ware lig, wat van buite die menslike leefwêreld kom, die donker kom verdryf het. Hy is die ware lig wat ons donker kán verdryf, want in Hom is daar Goddelike lewe, lewe wat ewig is, van voor die skepping, en wat lewegewend is. Die lewe wat Hy bring, is egter nie gewone biologiese lewe nie, maar gee juis ons aardse bestaan ’n hemelse kwaliteit omdat Hy ons ’n hemelse identiteit skenk: Ons word kinders van God, uit God gebore (vers 12). Dat dit gebeur, is volkome genade, geheel en al God se toedoen (vers 13).

Jesus het nie net lig gebring sodat mense self die pad na God kan vind, soos die gnostiek geleer het nie. Nee, Hy is God wat as mens verskyn, wat dus self na die mense toe kom, nie om kennis mee te deel sodat hulle hulself kan verlos nie, maar juis om die verlossing te skenk aan magteloses, vasgevang in die donker van menswees. Dit gebeur wanneer die laaste lewenslig sy oë verlaat, terwyl sy oopgesperde arms aan die kruis die mensdom seën. Hy is ons hoop, die enigste ware lig. Lewe in sy lig, weerkaats dit na ander, en verdryf so ook hul donker.

Gesang 373: 1-2

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link