Matteus 9: 35 – 10: 4

In hierdie teks vind ons dele van Jesus se groot sendingpreek wat tot aan die begin van hoofstuk 11 strek. Hierdie preek vertel hoe Jesus die dissipels uitstuur met ’n besondere opdrag. Die apostels sal krag ontvang om te gaan doen wat Christus van hulle vra. Ons word herinner aan ons aandeel aan God se sending, die missio Dei. Jesus gee duidelike opdragte sodat die koninkryk wat Hy na ons gebring het, verkondig en uitgeleef kan word.

Net soos die toehoorders van die Matteus-evangelie, is ons ook bewus van hierdie gestuurdheid na die wêreld – ’n opdrag wat vir ons ook steeds geldig is. Jesus het die opdrag gegee, nou is dit sy volgelinge se taak om deel te neem aan die sending of verkondiging. Die koninkryk van God begin nooit by die mense nie. Dit is ’n opdrag van God.

Toe Jesus die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry (die Grieks kan letterlik so vertaal word: Sy hart het met liefde en omgee gesmelt). Jesus het soveel deernis vir die mense voor Hom gehad, dat Hy sy eie volgelinge uitstuur om aan hulle die boodskap van redding te verkondig.

Dit is slegs hier in die Matteus-evangelie dat die woord apostels gebruik word. Hierdie woord omskryf uiteraard diegene wat gestuur is met die opdrag om redding deur Christus te verkondig. In die grondteks beteken hierdie woord tog baie meer. Dit verklap iets van die betekenis van ’n ambassadeur of verteenwoordiger van iemand. Wanneer Jesus hierdie apostels twee-twee uitstuur, is dit juis om getuies te wees wat Hom sal verteenwoordig!

Nes die apostels, word ons ook geroep, gevorm en gestuur om die evangelie van Christus te verkondig, te getuig van sy koninkryk en as’t ware Christus te verteenwoordig in die gebroke wêreld waarin ons beweeg. Want wanneer God na mense kyk, is dit met deernis; met die opdrag om te gaan en te verkondig dat daar redding is. Dit is ons troos. God roep, vorm en stuur ons met die blye boodskap van sy verlossing!

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link