Jesaja 55

Ek het al dikwels by mense wat in nood gedompel was, innige en opregte belydenisse van geloof gehoor. Hierdie belydenisse was so opreg dat hulle byvoorbaat geglo het dat die Here hul omstandighede sal verander. As ons egter eerlik daaroor wil wees, moet ons erken dat dit met só ’n belydenis nog bloot ’n droom oor uitkoms is.

Die volk van die Here jubel in hoofstuk 54 van die boek Jesaja oor die uitkoms uit ballingskap wat die Here aan hulle beloof het. In hoofstuk 55 herinner die Here hulle daaraan dat Hy nie net ’n filosofiese werklikheid in hul lewens is nie, maar ’n egte teenwoordigheid. Hy loop elke tree saam met hulle. Die treffende beeld wat die profeet gebruik om die punt mee te illustreer, is reën en sneeu. Die Here stuur reën en sneeu na die aarde met ’n doel. Hy stuur dit nie sommer net en neem dit weer terug nie. Dit moet die aarde bevog sodat plante kan groei om eindelik vrugte en saad op te lewer.

Sy beloftes oor die volk se uitkoms en terugkeer na hul eie land is kragtige beloftes wat inderdaad in hul alledaagse lewe gesien en beleef kan word. Sy woorde word waar, en dit bring verligting. Hoewel ons omstandighede nie altyd so gunstig is as wat ons dit graag wil hê nie, en hoewel die uitkomste in ons lewe nie altyd presies is waarop ons gehoop het nie, skep die Here uit al ons chaotiese omstandighede sin. Wanneer ons op Hom vertrou, lyk die ongunstige milieu reeds meer gunstig. God se mond uiter telkens heilsame en opbouende dinge vir sy kinders. Hy het gepraat, en die skepping was daar. Hy het gepraat, en die verbond met sy mense was gesluit. Hy het gepraat, en die nuwe verbond in Christus was in plek.

God praat steeds vanuit sy Woord en belowe heerlike dinge. Hierdie dinge is nie filosofiese nie, maar eerder egte werklikhede, wat telkens heil bring.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link