Rigters 11: 1-11
Het dit ook al met jou gebeur dat mense jou verwerp het oor iets, en dan kom hulle later na jou toe en vra of jy hulle kan help? Ongelukkig gebeur dit selfs ook in die kerk onder gelowiges.
Een van die stamme van Israel het ’n kind, jong Jefta, weggejaag omdat hy die seun van ’n prostituut was. Maar later, wanneer hierdie stam in nood is en op soek is na ’n leier in hul oorlog, dán is Jefta ewe skielik goed genoeg. Hierdie stam van Israel, wat hulself gelowiges noem, het Jefta takseer op iets waaraan hy niks kon doen nie. Maar hul nood het hulle genoop om verby hul vooropgestelde idees te kyk na Jefta se werklike karakter en sy goeie eienskappe.
Jesus Christus het van die begin af verby al die stigmas en vooropgestelde idees gekyk en eerder die goeie in mense raakgesien. Hy het hul potensiaal raakgesien. Toe Hy ons van die sonde kom bevry het, het Hy vir ons die vermoë kom gee om in sy voetspore te volg. Dit beteken dat ons ook eerder die goeie en die potensiaal van mense moet raaksien en daarop moet reageer. Ons natuurlike instink is om eers die negatiewe te wil raaksien en daarop te reageer, maar ons Christelike instink help ons om verby dit te kyk en eerder die goeie raak te sien.
Mag die Heilige Gees ons begelei om eerder te luister na ons Christelike instink, as na ons natuurlike instink.
Gebed
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag.
(Gesang 284)
Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend
