1 Petrus 4: 12-16

Die basiese lewensituasie van die Christene in Klein-Asië was glad nie ideaal nie – hulle was blootgestel aan vervolging en lyding. Veral die nie-Jode wat Christene geword het, het baie swaar gekry omdat hulle nie soos die Joodse Christene lyding en vervolging geken het nie. 1 Petrus wil hulle bemoedig in hierdie omstandighede deur hulle te verseker dat hulle nie alleen is nie.

Die feit dat Christene in hierdie lewe blootgestel sal wees aan lyding en beproewing ten spyte van hul geloof en dikwels as gevolg van hul geloof, moet hulle nie afskrik nie. Jesus het self gesê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg (Matt 16: 24).

Die gedeelte wil die gelowiges begelei om anders oor lyding en beproewing te dink. Daarom kry hulle die oproep om bly te wees as dit gebeur, want dit dui op hul verbondenheid met Christus. Indien hulle ly omdat hulle die wil van die Here doen, kan hulle ook weet dat hulle deel het aan die wederkoms van Christus en aan sy heerlikheid. In vers 14 word die gelowiges selfs geseëndes genoem, omdat hulle ter wille van Christus lyding en beproewing verduur. Hulle beleef die seën van die Here wanneer die Gees van heerlikheid en die Gees van God op hulle bly. Dit gee hulle krag om, in alle omstandighede, God te verheerlik met hul lewe.

Vandag staan ons as gelowiges voor dieselfde werklikheid van lyding wat ons dikwels moet verduur as gevolg van ons geloof. Die Woord van die Here vra dat ons altyd daarna sal streef om die wil van die Here te doen, en dit bring ons in konflik met hoe die samelewing dinge doen. Om die naam Christen te dra, beteken dat ons altyd sal onthou dat ons tot eer en verheerliking van God moet leef, en daarom moet ons kompromieloos doen wat reg is. Die enigste manier om dit reg te kry, is om ons deur die Gees van God te laat lei in ons daaglikse lewe.

Ds Adriaan Roets, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link