Johannes 16: 1-15

Nadat Jesus vir sy dissipels aan die begin van hoofstuk 14 gesê het dat hulle nie ontsteld moet wees oor sy weggaan nie, sê Hy in hoofstuk 16 vir hulle dat dit tot hul voordeel is dat Hy weggaan. Omdat Hy weggaan, gaan Hy die Voorspraak, die Heilige Gees, na hulle toe stuur. Hul droefheid sal in blydskap verander. Die Gees van die waarheid gaan hulle onderrig oor die hele waarheid. Deur die getuienis van die Gees sal die wêreld kan sien hoe sondig die wêreld is en dat die reg aan Jesus se kant is. Sonder die Gees, sê Jesus, is hulle nie in staat om ten volle te verstaan wat Hy alles vir hulle wil sê nie. Jesus leer hier dat die Gees oor Hom kom getuig en Hom kom verheerlik.

Dit is wat ons bely oor die Gees van God. Alleen deur sy werking kan ons tot die belydenis kom dat Jesus die Here is. Hy wek en versterk ons geloof. Omdat Hy die Gees van die waarheid is, en in ons is, lei Hy ons ook om te onderskei wat die waarheid is. In 1 Johannes 2: 20 sê Johannes vir sy lesers (gelowiges/kinders van God) dat hulle met die Gees gesalf is en daarom die waarheid ken. Die waarheid hier handel oor die belydenis dat Jesus werklik die Christus is. Die skrywer sê dan in vers 27 dat hulle niemand anders nodig het om hulle te leer nie, want dit wat hierdie Gees leer, is die volle waarheid.

Die Gees werk deur die Woord van God en salf ons met kennis en waarheid. Natuurlik sal ons nooit die volle werking van God kan verstaan nie, want ons menslike verstand kan nie die grootheid van God bedink nie, maar ons het hierdie kennis: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hė.

Dit is die hele waarheid wat sy Gees in jou hart geskryf het.

Ds Manda le Roux, Weskus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap