Markus 8: 34-36

Jou verlossing in Christus mag dalk verseker wees, maar die keuse om aan te hou om Jesus te volg, word elke dag ’n duisend keer gemaak. Daagliks staan ons voor die unieke uitdaging om ons kruis op te neem en Jesus te volg, as ’n unieke enkeling of nie. Hierdie vreemdelingepad, enkelingpad, word vir ons uitgespel deur Jesus in Markus 8: 34-36: Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg…”.

Aan die een kant staan die skare. Baie van hulle is die koel-soos-’n-komkommer-groep wat altyd “in” is met alles en almal. Party van hulle is jou vriende. Hulle is blatant uittartend en veeleisend. Hulle dryf openlik die spot met die persoon wat alleen in die ander kamp uitnodigend vir jou staan en kyk. Hulle is gemaklik om die meerderheidsgroep te wees, wie se standaarde aanvaarbaar moet wees vir almal.

Aan die ander kant staan ’n alleenloper, ’n enkeling, ’n verstoteling, met sy rug gedraai op die ligtekring. Hy is stoksielalleen. Sy lippe is geswel. Sy oë is bloedbelope. Dit lyk asof Hy op sy tande kners om die pyn namens die persone te vat. Hy staan ook bekend as die Waarheid, die Lewe en die Weg. Hy het alleen die pad gestap na die kruis om te verseker dat jy nooit weer ’n alleenpad, ’n enkelingpad of ’n vreemdelingepad sal stap nie.

Al twee groepe se beloftes roep dit uit: Die skare belowe oppervlakkige aanvaarding; die Enkeling belowe ’n kruis van verlossing en redding en ’n lewe van dankbaarheid. Die skare bied tydelike kos en geld aan; die Enkeling bied geloof wat vir ewig sal staan. Die skare daag jou uit met volg ons en pas in en word deel van ons; Jesus belowe volg My en staan uit as my getuie. Die skare belowe om jou tevrede te stel en jou tevredenheid te waarborg; God belowe om onselfsugtig te red en te verlos.

Wie gaan jy kies? Die skare van oppervlakkige aanvaarding, of die Enkeling wat bereid was om die prys der pryse te betaal met sy lewe?

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link