Galasiërs 5: 13-15
Op meer as een plek lees ek dat jy moet ophou om goed te kies wat nie jý is nie. Ons hoor dat ons vir onsself moet sorg – en dit is goed om vir jouself te sorg. ’n Mens kan nie maklik iets uit ’n leë koppie gooi nie. Wanneer dit egter by die punt kom waar jy net die heeltyd jou eie siel voed en nie omgee vir ander nie of glad nie meer kan gee vir ander nie, omdat jy voel dat dit jou geluk gaan wegneem, raak dit ’n probleem. Ons leef in ’n selfsugtige kultuur. In ons alledaagse wêreld word ons geleer dat ons na onsself moet omsien en dat “ek” eerste kom, maar dit is nie wat ons in ons geloofslewe geleer word nie.
Ons as Christene word opgeroep om ons naaste lief te hê soos onsself. Dit vra dat ons na onsself moet omsien en selfsorg moet toepas, maar dit moenie ten koste van iemand anders se geluk wees nie. Op die einde van die dag is dit goed om self geluk te vind, maar wanneer ons sukkel om self geluk te vind, is dit net so goed om geluk in iemand anders se geluk te vind en nie die mense rondom ons af te trek na die ongelukkige plek waar ons glo ons is nie. Dit is tog ons opdrag – om ook ons naaste lief te hê.
Daar is ’n program waarna ek kyk waarop die een karakter sê dat geluk iets wonderliks is. Dit is so wonderlik dat dit nie saak maak of dit joune is of nie. Kom ons gaan hierdie week in en soek geluk; nie net vir onsself nie, maar soos ons geroep is, ook vir ons naaste – dit wil sê, almal om ons.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot
