Johannes 3: 16 (AFR2020)

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Hierdie bekende vers word soms ook die sleutel na God se ewige koninkryk genoem. Maar alhoewel die boodskap mooi en vertroostend is, was God se liefde ’n baie groot offer. Wel, dié grootste offer ooit.

Jesus se offer aan die kruis was uiteindelik die bewys van sy intense liefde vir alle mense. Gewillig het Hy uiterste pyn en lyding ter wille van ons verduur. Maar, vreemd soos dit vir die wêreld klink, het Hy deur sy dood en opstanding aan ons ’n vaste hoop gegee – hoop op die ewige lewe, asook die versekering van God se onvoorwaardelike liefde.

Ja, terwyl ons in die Lydenstyd nadink oor die betekenis van Jesus se offer, moet ons uiteindelik by die besef kom dat dit nie slegs ’n gebeurtenis iewers in die verre verlede was nie. Nee, dit het betekenis vir ons vandag. Daardie kruisliefde moet ’n gebeure VANDAG word. Daar moet iets met my gebeur. God se liefde vir ons is nie net ’n goedvoelboodskap nie. Dit moet ons aan die gang kry en beweeg tot dankbaarheid en aksie. Dit moet ons in beweging bring om God se liefde aan ander te demonstreer sodat hulle ook hierdie groot liefde kan ervaar. Hoeveel mense loop nie God se onvoorwaardelike liefde mis nie! Dalk kan my opregte glimlag of eerlike vriendelikheid die eerste liggie wees wat deurbreek in hul donker lewens.

Mag ons almal geïnspireer word om agente van verandering in ons wêreld te wees. Laat ons nadink oor God se onbeskryflike liefde en dankbaar wees vir die opoffering wat vir ons gemaak is, en laat ons reageer met ons eie liefde en diens.

Ds Dawie Jacobs, Dolfynkus/Durban-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap